Ontdekking van goud in Suid-Afrika

Langlaagteplaas

Binnelandse gebiede van Suid-Afrika waarheen die Voortrekkers getrek het, was eeue lank op kaarte aangedui as deel van die legendariese Koninkryk van Monomotapa, 'n koninkryk van rykdomme. Die trekkerleier Louis Trichardt het ook reeds in 1836 in sy dagboek geskryf van die goud wat Bantoes in die spruite gewas het. Hulle het 'n eienaardige, maar baie doeltreffende metode gehad om die spoelgoud te was.

Hulle het 'n beesvel plat op die bodem van die rivier gelê sodat die hare teen die stroom regop gestaan het. Die sand uit die rivierbedding is stroomop van die vel met die hande gewas, en die swaarder stofgoud het gesink en teen die hare van die vel vasgespoel. Wanneer die goudsoeker van mening was dat hy genoeg goud gehad het, het hy die vel uit die water gehaal en dit in die son laat droog word. Nadat die huis droog was, is dit op 'n gladde vel uitgeskud en afgestof, en die stofgoud sorgvuldig met 'n veer bymekaar gevee. Daarna is dit gesmelt en goue ringe en ander versiersels daaruit vervaardig.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search